iPitjie se Potjie
Engels Kopiereg

«— Voorhek —»

klonkie

die takhaar wit klonkie
en sy skreeuende donkie
met pampiere belaai
deur die gange lawaai
die twee heen en weer
met hul mal gekkeskeer
en hande oor ore
volg paartjie se spore


herfstapyt eGoli

bruin en geel goud en roos laventel
bok-bok voor as my stewels drentel
galm van vroeë horisone
koppies klim, sandverspreide tone
hopscotch speel, tamatiekas kolwe
kaalgat swem, goue myndumps golwe


Vlooie En Vlinders

Gods vlindergawe aan my paddahart geboei
Word styf vasgehou deur 'n lewe wat skroei
Terwyl gapings gevul word met vlooie uitroei
Staan ons saam-saam alleen met harte in bloei
Klein meisies hol malkop om en om vaste paal
Binne kneus derms onder grofklip se maal
Aaklig se gevoelens terwyl woorde soms faal
Tog hoog vlieg die hoop dat ons mylpaal mag haal

«— Spanblad —»

In Sonbak Hoek

In sonbak hoek
Marmer en wind
Sit rook alleen
Hervinde kind
Oogblink wolke
Sweef heen en weer
Trots klop die hart
Weereens van teer
Ryplank genar
Staalgedrog vrek
Gister se graf
Vandag se gek


Onbillike Rooi

Onbillike rooi
Se blom knik vir my
Skreeuslanke lyfie
Haar helfoon digby
'n Smag na tevore
Haar stond aan my sy
Geswartrompte meidjie
Groen koppies voor my
Verslaggeefster gimlag
Dis neusie verby
Onbillike rooi
Glipgly dae verby

«— Spyskaart —»

Agter Krulle En Trane

Van Mishi ontneem
Staan ek hier, vervreemd
Klein Jesse, háár blom
Opnuut soek na Hom
'n Susslaap so teer
Met geweld versteur
Sandra se faribel
En Anna se gekibbel
Nóg Christen, nóg Jood
Sal hulself ontbloot
Alewige gekerm
Moet ek lag, of ontferm?
'n Gebal van die vuiste
Hier, in God se tuiste
Die geskreeu van selfone
Vertrappings van krone
Benedicta word verhemel
Skinderstories wemel
Gevrete volgestop
Teen voluit galop
Ek vlug na die tuine
Los malles in hul puine
Waar Shannon die kleine
Nog een van die reines
Met Oupa die enkeling
En amper verdrenkeling
Kaalpoot in die sand
Gaan staan, hand in hand
In geheel onverstote
En tog uitgeslote
Agter krulle en trane
Lê die dag nou verslane


My Stad Se Gesigte

Malvas en bye
Sambrele se rye
Tafels verwagtend
Duiwe minagtend
'n Klonkie seil heen
In abba se seën
BMs teen die bult
Holdiep in die skuld
Die Beeld se berigte
My stad se gesigte

«— Voorhek —»

O, toggie!

Deur sombere gange
Jolyt en uitroep
Van tussen haar wange
Ontglip toe 'n poep
Ontwaking, geskater
Geskud soos sy lag
En steeds, soveel later
Weergalm Haar prag


bliksemstrale sonder tal

snikkend en stukkend haar oë dikgetjank
sit kerry hier voor my verkrimp op my bank
na my-toe gevlug in haar smartdiepe nood
Basté is dood . . . .
Basté . . . . is . . . . dood . . . .

«— Spanblad —»

Sandton City

Gesigte vol pligte en orals booswigte
Gepynig, te suinig, die mensliefde weinig
Gerooies, geplooides, leë harte van dooies
Gekroeg of genoeg van die lewe se swoeg
Geraas, die gehaas, en leegheid helaas
Gebange gedrange, in bankskuld gevange
Gevrete verslete of weereens vergete
Geknakdes, verswakdes of skynbaar verkragdes
Genoopdes, oorhoopdes, van siele gesloopdes
Genaaides, verfraaides, en winskoop belaaides
Gemerkdes, beperkdes, gepynde ontkerkdes
Gekapdes, vertrapdes, en te min onsnaptes


Etienne Lewis

Jou koedoevel banke
Het my nou aan't tjanke
Wie diere vermoor
Behoort ons versmoor
Of stadig verdrink
Of skend en vermink

Waar kry jy die regte
Om ons God se knegte
Met velle soos vaandels
So kru te mishandel
Voel jy dan geen skande
Of tel net jou Rande

Jou stem klink so trots
Maar hy maak my kots

«— Spyskaart —»

Hof Nommer 8

Dis koud hier buite waar ek staan en wag
in die rooivloer gang langs hof nommer 8
Elke gesig dra sy eie storie
Maar bra min van prag, en minder glorie
Man-alleen staan ons vir 'n saak en wag
Ek's hier want ek het die hof verontag
Maar bang-bang vanoggend hier aangekom
Hoop die ou landdros laat val nie 'n bom
Papiere vladder, en stompies lê, rond
En, net soos my saak, 'n hoop duiwestrond


Hoe Klein ?

Geweerkaatste karre
Remligte rooi
En hemelse narre
Wat klappers gooi
'n Hoëveldse storm
Weerlig geblits
Help hierdie mens vorm
Helderblou flits
Dit rol en dit bulder
Hemels verlig
Met woord wil ek skilder
Onmoontlike plig
Hoe klein is net één mens
Ons kennis so nou
'n Blits merk my één wens
Dat God my onthou

Poetic ExpressBesoek hierdie blad

«— Voorhek —»

My Laat Kersgety

Hierbinne lê my afbeen kat
Daarbuite lê die straat papnat
Buite lyk St Peter grys
Maar binne-in is alles pluis
Buite sing die wiele "sjoesj!"
Binne, loof van Peter Boesch
Sag en strelend hang die sang
Die CD net vandag ontvang
Gemoedens teenoor Lissa's teer
Jubelpryse aan hul Heer
Skielik geëindig op hoë noot
Driepoot Buddy soek my skoot
Vandag se naam wys Januarie sewe
Goddank! Sy kind is weer aan't lewe


net vir jou, Julie

my keel's aan't gaap
my oë wil slaap
my liggaam's saf
ek switch nou af

dis netnou tyd
vir meer jolyt
weer kans vir lag
en God se prag

as jy beaam
doen ons dit saam
intussen Sus
'n slaap gerus

«— Spanblad —»

vlindervlerk

so sag soos slag van vlindervlerk
kom lê sy in my hart haar merk


Vergifenis

Fondasies wat sidder
Klipmure wat beef
'n Woede wat bibber
Solank as ek leef
Ek pleit vir genade
G'n straf en g'n pes
Op doener van dade
G'n koeël en g'n mes
Gedragte van sonde
Drie broers was vermink
Gelos met diep wonde
Hul't aldrie gesink
Die jongste nou heen
Hy's weer God se gees
Die diep slaap alleen
Daar word hy genees
Wie het haar geleer
Om só af te knou
En pleks van vereer
Gestraf en gejou
Die swart haal se streep
Nie meer op my lyf
Maar slaap is gereep
Nou lê ek en skryf
Van gister se ween
En vra dat die Gees
Verlossende seën
Ons toekoms mag wees

«— Spyskaart —»

Paasnaweek

'n Kind sonder keel, vieslike gehyg
Getalle van dooies wat daagliks net styg
'n Ma sonder kinders, gesinne van rou
Vrekbang regering met handjies gevou
Bande se geskreeu, metale wat bots
Gruweldaaddrywers wie my wil laat kots
Strate vol lyke 'n Nasie wat bloei
Verwyder die pes wat ons so uitroei!
Duiwelse mense jul stroop my land kaal
Ek sê dis hoog tyd vir galgtou se haal ....


reën

mossies skuil sirenes huil
die weer is aan die kom
groen blare plat en gras papnat
vandag se werk gekrom
karwiele suis dit voel so juis
daai verweg diep gegrom
dit raak so stil ek ken die kul
Sy speelkind sy se bom
meteens die flits 'n rou geblits
geweet daar's meer wat kom
dáár val dit weer so hard so teer
terwyl ek sit verstom
'n wonderwerk Almag se merk
ek buig my hart voor Hom

«— Voorhek —»

Spanspekkie

Uit Elche, Alicante
'n e-pos gesante
Bedaarde begin
van feite ontgin
'n vragie of twee
geneem en gegee
gekinkel gekronkel
'n Grys-blou gevonkel
'n Kleuter-geklouter
die ewe kabouter
'n Wind se gewarrel
my vingers moet skarrel
'n Vuur word gestook
deur modems wat rook
gemoedens geroer
my slaap in sy moer

«— Spyskaart —»

Button spider

Knoopspinnekop werftoekenning

Putu potCompassMy maskSitemapMacarenaRocking chair

Hierdie potjie sal julle elke keer hierheen terugbring, en die kompas wys die pad na sy Engelse spanblad.

Maar skryf gerus!

iP¡tjie
Email me

KOPIEREG

Neem asseblief kennis dat alle stukke wat hierbo verskyn my eie skeppings is; ek het nie my kopiereg of ander regte oor hulle laat vaar nie. Ook gee ek nie hierdeur toestemming vir hulle om elders as op hierdie webblad gepubliseer of gedupliseer te word nie. Nadrukke word dus spesifiek verbied. Ek het in die verlede, onderhewig aan streng beperkings, sekere webpersele toestemming gegee om 'n paar stukke te reproduseer.

Peter Ben-Israel

 

Nuutste byvoegings Januarie 23, 2001 — Last update 23 January 2001
URL : potjie.htm
Javascript deur Infohiway.com — Javascript by Infohiway.com